| |||||
Nasionale leuse: Mir wëlle bleiwe wat mir sinn (Luxemburgs vir: "Ons wil bly wat ons is") | |||||
Volkslied: Ons Heemecht Hertoglike Volkslied: De Wilhelmus | |||||
Hoofstad | Luxemburg | ||||
Grootste stad | Luxemburg | ||||
Amptelike tale | Luxemburgs, Duits, Frans | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Henri Guillaume Luc Frieden Xavier Bettel | ||||
Onafhanklikheid • van die Eerste Franse Keiserryk
• 1ste Verdrag van Londen • 2de Verdrag van Londen • Einde van die persoonlike unie |
15 Maart 1815 19 April 1839 11 Mei 1867 23 November 1890 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
2 586[1] km2 (178ste) 998,5 myl2 0,23 (2015)[2] | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2021-sensus - Digtheid |
671 254[1] (168ste) 643 941[3] 259,6 / km2 (58ste) 672,3 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2024) | 0,927[5] (20ste) – baie hoog | ||||
Gini (2023) | 30,6[6] – medium | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
MET (UTC+01) MEST (UTC+02) | ||||
Internet-TLD | .lu | ||||
Skakelkode | +352 | ||||
Luxemburg (Luxemburgs: Lëtzebuerg, [ˈlətsəbuə̯ɕ], ; Duits: Luxemburg, [ˈlʊksm̩bʊʁk], ; Frans: Luxembourg, [lyksɑ̃buʁ], ), amptelik die Groothertogdom Luxemburg (Luxemburgs: Groussherzogtum Lëtzebuerg, [ˈgʀəʊ̯sˌhɛχtsoːktuːm ˈlətsəbuːə̯ɕ]; Duits: Großherzogtum Luxemburg, [ˈgʁoːsˌhɛɐ̯tsoːktuːm ˈlʊksm̩ˌbʊɐ̯k], ; Frans: Grand-Duché de Luxembourg, [ɡʁɑ̃ dyʃe də lyksɑ̃buʁ], ), is op een na die kleinste staat van die Europese Unie, met 'n oppervlakte van 2 586 km² en 'n bevolking van 671 254 (2024).[1] Dit word begrens deur België in die weste en noorde, Frankryk in die suide en Duitsland in die ooste, vervolgens is dit 'n landingeslote land.
Die geskiedenis van Luxemburg is onskeibaar verbonde met dié van sy buurlande. Vanweë sy sentrale ligging in Europa was die land van groot strategiese belang vir 'n verskeidenheid moondhede. Die geskiedenis van versterkings en kastele, wat in Luxemburg gebou is, strek terug tot in die antieke tydperk toe hier 'n Romeinse fort ontstaan het. Later, in die vroeë middeleeue, is 'n belangrike Frankiese kasteel hier gebou, en tussen die 16de en 17de eeu was dit 'n vesting langs die Spaanse Pad, 'n Europese roete van militêre en ekonomiese belang.
Luxemburg is in sy geskiedenis deur 'n verskeidenheid state en dinastieë geregeer, maar vorm sedert die 10de eeu 'n eie politieke entiteit, al was dit nie steeds onafhanklik of outonoom nie. Vandag is Luxemburg, 'n land van saggies golwende heuwellandskappe en bosse met matige winters en warm somers, 'n erflike konstitusionele monargie met 'n eenkamerparlement – en die laaste onafhanklike groothertogdom ter wêreld.
Danksy die politieke onafhanklikheid het die groothertogdom sy plaaslike dialek, Luxemburgs of Lëtzebuergesch, tot nasionale taal uitgebou. Dit is nou verwant aan die Moeselfrankiese dialekte wat oorkant die grens in Duitsland gepraat word, terwyl Duits ook die eerste vreemde taal en die medium van die mediabedryf is. Frans dien as administratiewe taal.
Die Luxemburgse ekonomie word veral deur die bank-, assuransie- en staalbedryf oorheers. Maar ook die plaaslike landbousektor en wynbedryf speel 'n belangrike rol. Die Moeselvallei, 'n vallei wat oor Luxemburgse en Duitse gebied strek, lewer witwyne van gehalte op. Net soos in ander Europese lande noord van die Alpe is ook bier baie gewild. Die inheemse bosse, mere en rivier lewer 'n verskeidenheid eersterangse produkte op, waaronder haasvleis (Hasenpfeffer of haasbredie is een van die nasionale geregte van die land), Ardenne-ham en forelle.
Luxemburg is 'n stigterslid van die Europese Unie en van die NAVO. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer en in 2002 die Eurobanknote en -muntstukke.